Magalieskruin gemeenskap

My storie …………

Ons is bang, tog opgewonde. Dit is ons eerste dag saam met die Danville Uitreikgroep.

Ons vertrek in die Kombi saam met Johan en die ander lede van die groep en al geselsend stop ons in Danville.

Groot oë loer vir ons toe ons die komberse onder die bome oopgooi. Gou-gou kom die kinders nader en ons begin om saam te sing. Ons dank die Here vir die voorreg wat Hy vir ons gee om die Woord aan die kinders te bring. Na die les oor Noag maak ons ‘n papierduif en spring ‘n paar keer soos die rooimiere ons byt. Ons deel die worsbroodjies uit en staan verstom hoe honger die kinders eintlik is. Die entoesiasme van die kinders is aansteeklik en kort voor lank sien jy net spierwit duiwe swaai aan die stukkies rooi wol. Groot opgewondenheid heers om die duiwe by die huis te gaan wys en die belofte van ‘n vreedsame lewe saam met God na storms.

Die kerkdiens is klaar. Ek verkyk my aan die groot hoeveelheid mense wat in die lang tou gaan staan om ‘n kospakkie te ontvang. Ek stap tussen die mense en gaan staan stil by ‘n ou tannie. Die grys haartjies staan wild en tande is lankal vergete…. Die tannie staan elke Sondagoggend 2 uur op want half drie kom die bussie haar optel om koerante te gaan verkoop. Daar kom sit n knop in my keel, so oud en sy kom dan eers sewe uur die aand tuis. Sy se sy kry enige iets van R50 tot R200 vir die dag. Die blou oe is waterig en staar verby my. Ag as die mense net meer “tips” wil gee dan kan sy haar kleinkinders help versorg. Ek stap verder maar dit spook by my …. Hoe veroordelend en ongeduldig is ons soms met die persone wat Sondae op die hoek staan en smeek dat iemand ‘n koerant moet koop.

Ek loop so gesels-gesels en besef opnuut dat ‘n mens nie die krag van ‘n eenvoudige aanraking moet onderskat nie – dit praat binne in iemand se hart in. Soms is daar net ‘n kopknik ander kere ‘n versoek vir n Bybel, kleertjies vir die nuwe baba wat net afgelaai is by Ouma en ‘n traan wat oor haar wange biggel want hul huis het afgebrand.

Met die terugstap hoor ek by Bertus hy het na ‘n gebedsgroep toe gery na ‘n vreeslike ver plek ……… Rustenburg. Gelukkig het die water gehou wat hy gevries het terwyl hy hom verkyk het aan die besige paaie.

Oumense, jongmense en kinders wat ook drome en ideale het of gehad het, maar wat weens omstandighede nie verwenslik is nie staar voor hulle uit in die bloedige son en wag geduldig hul beurt af vir hulle kospakkie.

Ons pak op en ry huis toe. Dit is stil in die kombi. Elkeen sit met sy eie gedagtes …. Ek wonder hoe is dit moontlik dat ek net aangeneem het almal het alles wat hul nodig het. Ek wat my blind gehou het vir die groot nood buite my beskermende lewe.

Twee weke later bel Johan en vra of ons kans sien om weer te gaan. Ja … hoe dan nou anders, die Heilige Gees het ons harte aangeraak en elke keer dat ons gevoel het dit word te veel en ons wil ophou, het die Here deur die Dominee se boodskap met ons gepraat. Tyd is tog die kosbaarste geskenk wat jy vir iemand kan gee. Gee jouself aan God soos God Homself aan ons gegee het.

Ek wil ook van die geleentheid gebruik maak om Johan en elke persoon wat tans betrokke is by ons uitreik, te bedank vir hulle getroue betrokkenheid, Dankie ook vir Tannie Dorothy en Tina van Reinasance, Martin en Tannie Hettie vir hul onbaatsugtige bydraes. As daar miskien ‘n persoon is wat gelei voel om ‘n verskil in mense se lewens te maak en betrokke wil raak by die uitreik, is u welkom om Johan Ackerman te kontak (082 472 2153) vir meer besonderhede. Selfs as u nog nie seker is waar u inpas in God se meesterplan nie, is u welkom om te kom kyk of Danville nie dalk u bedienningsveld is nie. Ons het u betrokkenheid nodig al is dit net om te help met die uitdeel van kospakkies.
Kruiwaens propvol blessings vir julle.

Cora Jacobson

Views: 89

Add a Comment

You need to be a member of Magalieskruin gemeenskap to add comments!

Join Magalieskruin gemeenskap

© 2019   Created by Louis Lemmer.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service